Connected
Geen verhouding is presies dieselfde as ’n ander verhouding nie. En dit is ook nie veronderstel om te wees nie. Connected is ’n foto-reeks deur Vian Roos wat die verskillende maniere waarop paartjies verhoudings uitleef, ondersoek. Die portrette funksioneer in tandem met teks. Saam poog die projek om een van die basiese menslike emosies – liefde – op te roep, en om ondersoek in te stel na die wyse waarop paartjies verbintenis en saamwees verstaan. Anneli Groenewald werk saam met Roos deur die teks te verskaf wat die werklikhede onderliggend tot elke verhouding in hierdie reeks dokumenteer en kontekstualiseer. In die proses wil die projek vooroordele teenoor sogenaamde ‘nie-tradisionele’ verhoudings ondermyn.
Connected was ‘n uitstalling in Julie 2017 by die Vrunge Fees, wat deel vorm van die Vrystaat Kunstefees en in 2018 by Colour My World, Brighton Pride, in Brighton, VK.
Fotograaf & konsep: Vian Roos
Woorde: Anneli Groenewald
Vervaardiger: Eugene Smith
VRYHEID
Ons verhouding is gebou op vryheid. As enigeen van ons die ander een te styf sou probeer vashou het, sou ons al lankal nie meer saam gewees het nie.
A: Die eerste ding van ’n verhouding is maar altyd fisieke aangetrokkenheid. En daarna, as daar ’n emosionele verhouding ontwikkel… dis wat dit sal laat maak werk. B se smaak, en manier van dink, was iets waarby ek aanklank gevind het. As dít nie daar was nie – dit maak nie saak hoe mooi B was nie – sou dit nie lank gehou het nie. Maar dis moeilik om een ding uit te sonder. Dis B se hele wese. En nog ’n ding was B se kreatiwiteit.
B: Dit is moeilik om te sê wat daardie een ding is wat ons bind. Dis gewoonlik ’n kombinasie van ’n miljoen klein dinge. Dis nooit een of twee dinge nie. Dis baie. Belangstellings, kuns – wat ons in gemeen het – is waarskynlik die grootste ding. Party dinge is dalk nie daar nie, maar die dinge wat wel daar is, is so sterk. Dit werk net vir my. En dan: A laat my toe om my eie mens te wees. En A wil niemand ooit skade aandoen nie. A is nooit aggressief nie, het nog nooit iemand sleg behandel of te na gekom nie.
A: Totdat B vir my sê ek moet gaan, sal ek bly. Ek het baie vroeg geleer dat sodra ek vir B probeer vashou, sal ek vir B verloor. En dit is nog ’n ding wat my tot B aangetrek het: ’n baie sterk persoonlikheid. Ons baklei nie rêrig nie. Maar daar is tye wanneer die mense wat die naaste aan jou is, die slaansak word. Want jy kan emosies laat gaan, en die persoon die naaste aan jou sal dit aanvaar. En verstaan dat dit moes uitkom, en hulle gaan nie na die tyd vir jou kwaad wees daaroor nie.
VREESLOOS
Ons het ons verskille, maar daar is sekere fundamentele dinge wat ooreenstem. Ons is sielsgenote.
A: Ek sê altyd miskien het my gees my na B toe aangetrek. Dit was nie ’n fisieke ding nie, maar iets het my net na B toe aangetrek. Ons energieë.
B: Wat my by A hou, is ’n gebrek aan vrees. Ek is nooit bang wanneer ek by A is nie. Soveel dinge omtrent A is moeiteloos. Selfs al sê A dinge wat my onseker moet laat voel – ek voel dit nie. Nog ’n kwaliteit wat A het, is braafheid. A wys vir my dat daar geen rede is om op ’n bepaalde manier op te tree of bepaalde klere te dra net omdat jy op bepaalde manier identifiseer nie. Aanvanklik was ek nuuskierig oor A. A het ’n tipe koninklikheid, en het hierdie element van respek. Jy weet? Iemand wat ’n mens na jou ouers toe kan neem – want jy kan my nêrens neem nie! Ek dink die antwoord oor wat my na A toe aantrek, sal altyd bly verander. Ek sal altyd ander dinge onthou, en baie daarvan kan nie werklik verduidelik word nie.
A: Ek sou sê ons is sielsgenote oor die manier waarop ek voel ek tot A aangetrokke geraak het.
B: Ek wil in A se teenwoordigheid wees. Ek was nog nooit vantevore bereid om so hard te werk om ’n verhouding te laat werk nie. Selfs al sou dit dalk meer prakties wees om eenvoudig die verhouding te laat vaar. Ek weet nie hoekom nie. Hoekom?
A: B bring die beste in my na vore, en laat my toe om myself te wees. Behalwe daarvoor, is ek eenvoudig lief vir B. Liefde is om te kan wees wie jy is, volledig, by die persoon. En jy is weer lief vir daardie persoon. Heeltemal. Sonder om enigiets aan hulle te probeer verander.
B: A het kwaliteite wat my aanvul. Ek is baie ongeduldig. En A is baie geduldig. A is geduldig met my selfs wanneer ek besig is om ongeduldig te wees. Ek vertrou vir A.
WERKLIKHID
Ons verhouding is baie werklik. Van die begin af. Ons moes vroeg in ons verhouding ’n paar baie ernstige probleme hanteer, en ons moes dit vinnig doen. So ons moes net saam vasbyt en dit doen.
A: Ons baklei baie. Veral as ek sê ek sal iets doen, en dan doen ek dit nie. Of as ek iets oordóén. Soos uitgaan op ’n Vrydagaand en dan kom ek eers vyfuur die volgende oggend by die huis. Ek was nog my hele lewe enkellopend. Ek was nie gewoond daaraan om Vrydagaande by die huis te bly nie; dat wat ’n mens doen, ’n impak het op ’n ander persoon nie. Aan die begin het ons baklei… amper asof ons vyande was. Later weet ’n mens nie meer hoekom jy bymekaar bly nie, maar jy bly om een of ander vreemde rede bymekaar. Die feit dat ons saam deur so baie gegaan het… Dis moeilik om aan ander mense te verduidelik hoe kak die lewe werklik kan wees. Ek hoef dit nie aan B te verduidelik nie. B weet. Ons weet. Ek dink dit bring ’n gevoel van kalmte in ons verhouding.
B: Ek dink daar is ook ’n element wat ’n mens nie kan beskryf nie. Party mense kom in jou lewe in, en dan verdwyn hulle weer. Ander kom en dan bly hulle net, om een of ander rede. Ek dink nie dis noodwendig noodlot of bestemming nie, maar dit is iets in daardie lyn. Party mense gaan net eenvoudig nie weer nie. Dit maak nie saak wat gebeur nie.’n Mens kan dit nie verduidelik nie – dat party mense net bly, ongeag wat. So dis vreemd.
A: Ek weet nie wat ons na mekaar toe aantrek nie. Maar in my oë is B perfek. Ek was nog nooit vir langer as twee maande in ’n verhouding nie, want ek vind altyd fout by mense. Met B… ek kan net nie fout vind by B nie.
Ons is lewensmaats. Lewensmaats, ja. Dit klink goed. Ons weet ons sal eendag saam doodgaan… As ons mekaar nie doodmaak nie! Ons is daardie tipe paartjie wat eendag ons eie kamers wil hê. Ons hou van ons eie spasie. Ons is altwee kunstenaars en het spasie nodig om te kan skep.
A: Ek is aangetrokke tot B se brein. Die manier waarop B dinge sien. Die goeie in die lewe. B sien dinge vir die eerste keer. Die hééltyd. En B is beeldskoon – maar dit is ’n bonus. B het my uitkyk op die lewe heeltemal verander, en daarvoor sal ek vir ewig dankbaar wees. B het net vir my ’n wêreld oopgemaak. Alle paartjies het seker daardie een ding… Maar ek dink vir ons is vriendskap die kern. Ons het in jare nie baklei nie. Ek kan nie eers onthou waaroor ons baklei het nie.
B: Daar was ’n tyd toe ons baie baklei het. Nou het ons nie tyd om te baklei nie. Ons werk te hard en sien mekaar te min.
A: As ons nou baklei sal dit oor onbenullighede wees. Nie oor iets soos ‘Ek hou nie van jou as ’n mens nie’. Ons sal nou baklei oor goed soos ‘Hoekom het jy die laaste stuk pizza geëet’.
B: Jy is werklik morserig. Noudat ek daaraan dink! Jy gebruik nege lepels om kos te maak, maar jou kos is werklik goed, so dit maak nie saak nie. Ek gebruik een lepel, maar my kos is nie so goed nie.
A: Musiek is alles vir ons. Ons is baie lief vir musiek en die band life. Ek dink as dit nie vir musiek was nie, was ons waarskynlik nie saam nie.
B: Ja, ek dink so. Hoekom bly ander paartjies by mekaar? Hoekom wil mense saam met ander mense wees? Ek weet nie. Omdat hulle bang en alleen is? Ek weet nie.
A: Die beste paartjies wat ek ken, is werklik goeie vriende. Elke paartjie vind waarskynlik die ding wat vir hulle werk.
A: Soos wat ’n mens ouer raak, gaan dit oor wat jy vir mekaar beteken. As iemand deur ’n swaar tyd gaan… die verhouding raak net hegter. Dit is belangrik om te dink oor jou gesindheid. En die manier waarop ’n mens goed vir mekaar sê. Jy kan dit op ’n mooi manier sê, of op ’n manier waarop dit die ander een seermaak. Dis vir my verskriklik belangrik in ’n verhouding: om mekaar te konsidereer.
B: Aan die begin is dit mos maar oor die seks. Dis opwindend. En later gaan dit verby. Dan raak dit psigies.
A: Ek kan partykeer vir die hele aand deur die huis loop sonder om te praat. En dan dink B ek is kwaad, maar ek is net nie lus vir praat nie. Maar in sulke oomblikke begin jy dit persoonlik aantrek. Ek hou nie van konflik nie.
B: Ek is maar ook partykeer nie lus vir A nie. Of vir mense nie. Dan neem A dit persoonlik op.
A: Toe ek vir B ontmoet het, het ek nie geglo in verhoudings nie. Ek dink dis daai wat hulle vir jou sê as jy die regte persoon ontmoet, sal jy weet. En toe ontmoet ek vir B.
B: Daar is altyd baie groeipyne aan die begin. Ek dink die verliefdheid help ’n bietjie dat ’n mens deur die groeipyne kom. Maar jy sien, die verliefdheid gaan naderhand verby. Ons is sielsgenote. Ek hoop ons is sielsgenote.
A: Ons sal nie in ’n restaurant sit en hande vashou nie. Mens sal eerder onder die tafel jou been teen die ander een s’n sit, om te sê ‘ek is met jou’. Die ander dag is ons in die winkel, en ons loop ’n vriend raak wat verjaar het. En ons het hom lank terug gesien. En ek dink nie een van ons het mooi gedink wat ons doen nie, en toe soengroet ons hom. En daar was ’n man in die winkel wat dit gesien het, en hy het ons met weersin aangekyk.
B: Ek voel soms skuldig teenoor die samelewing. Ek sou byvoorbeeld graag wou geloop het en A se hand wou vashou. Ek mis dit. Daai gemak in die samelewing. Jy kan aan ’n vrou hang in die openbaar en niemand dink dit is snaaks nie.
A: Gay, straight, huwelik, verhouding… wat ookal, in enige verhouding is dit dieselfde klein dingetjies wat mekaar irriteer. En met geluk is dit ook dieselfde.
Ons het dieselfde belangstellings gehad, en toe het ons begin gesels. Wat ons aan mekaar bind is gedeelde ervarings. Ons was daar vir mekaar gedurende baie moeilike tye.
A: Ek sien B nou as ‘my mens’. Aanvanklik was daar natuurlik ’n fisieke aangetrokkenheid. Maar daardie aangetrokkenheid is verhoog deur die intellektuele komponent. Ek kan nie regtig die fisieke en intellektuele van mekaar skei nie.
B: Dit bloei so half oor.
A: B is integraal tot my lewe. Ek kan dit nie sonder B voorstel nie. Ons het dieselfde belangstellings gehad, en toe ek met B begin gesels, het ek agtergekom dat ek, behalwe vir die gedeelde belangstellings, baie van B hou. En dat B baie slimmer was as die ander mense in die vertrek.
B: A was vir my baie, baie mooi. En A het presies dieselfde belangstellings as ek gehad. Ek kom van ’n klein plek af, waar niemand dieselfde belangstellings as ek gehad het nie. Ek was baie, baie aangetrokke tot A, maar dan kon ek boonop die tipe gesprekke met A hê wat ek nog nooit met enige iemand anders kon hê nie. Dit is iets inherent. Dit is iets wat net begin gebeur soos wat ’n mens tyd saam deurbring. As A anders gelyk het, sou A steeds myne gewees het. Ek sou steeds met A connect het tydens daardie eerste gesprek. En ek sou steeds net wou teruggaan om meer van A te leer ken. Ja, die fisieke is een komponent, maar dit is net ’n klein deeltjie van die geheel. Van ’n oorhoofse gevoel van: ‘Ek hou van jou’. Wat ons nou aan mekaar bind, is nogal gedeelde ervarings. Ons is altwee deur baie moeilike goed. Ons verhouding is werklik versterk omdat ons saam swaargekry het. Ons is regtig deur aaklige ervarings in ons lewe. En ons gaan steeds daardeur. En dan weet ek A gaan daar wees. En A sal nie weggaan nie. Die klein goed wat A doen, wys dat A verstaan waardeur ek gaan en watter ongelooflike pyn ek ervaar het.
A: Vir my is dit… Hoe verduidelik ’n mens dit? Dis vir my baie moeilik om te sê hoekom dit juis B is. ’n Mens kan nie sê dis een ding of ’n ander ding nie. B is so integraal tot my lewe, dat ek myself glad nie meer kan voorstel hoe die lewe sonder B sal wees nie. Ons is soortvan presies die teenoorgestelde van mekaar. Wel. Nie heeltemal nie, maar baie. Daar is dinge waarmee ek sukkel, en B help my daarmee.
B: Ons vul mekaar aan. Daar is areas waar ek werklik sukkel. En dan navigeer A my weer deur daardie dinge.
A: Ek wou nooit trou nie. En ek het na twee weke vir B gesê ‘ek gaan met jou trou’. Toe sê B vir my as ek oor ’n jaar steeds so voel, kan ons trou. ’n Jaar later het ons getrou. En dis wonderlik. Dis eenvoudig wonderlik.
B: As jy leer om vir mekaar positiewe goed te sê en dankbaar te wees, dan verander jou hele lewe. A doen verskriklik baie om my spesiaal te laat voel. Elke liewe dag.
A: Ek het ’n ding oor tandepasta. Dit moet in die middelste laai gebêre word. Toe vra B een dag vir my, maar hoekom? Hoekom moet dit daar gebêre word? En toe besef ek dit maak nie eintlik saak nie. Ek dink ons het op die regte ouderdom by mekaar uitgekom. Mens is meer volwasse. Klein goedjies – dit irriteer ’n mens nie. Maar ek wil eerder hê A moet my irriteer as nie daar wees nie. Jy moet toelaat dat elke persoon kan wees wie en wat daardie persoon is. Jy moet die persoon nie probeer verander nie. En dan moet jy daardie persoon ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gee en die persoon moet ongelooflik belangrik voel. Elke mens het ’n vreeslik groot behoefte na liefde. Ek het gebid vir liefde en vrede. En ek het dit by B gekry. Ek is ’n ou kwaadjie. En B maak van my ’n rustige mens. B is my balans. B bring die beste in my na vore.
B: Ek het net gebid vir ’n maat. Ek het nie gesê hy of sy moet sus of so wees nie. A is wat ek kort. Nie wat ek nodig het nie, maar wat ek kort. Ek dink verhoudings is gebaseer op wedersydse begrip. En onvoorwaardelik aanvaarding. Dankbaarheid en respek is ongelooflik belangrik. Ons het mekaar vervul. Vervulling. Nê?
A: Ja, ek dink so. Ek het altyd gedink ek wens net ek kon iemand kry wat vir my onvoorwaardelik lief is. En ek het dit by B gekry.
A: Gewoonlik, aanlyn, benader ’n mens dit baie oopkop. Jy ontmoet iemand, en gesels, en soms word dit ’n sterker verhouding. Soms word ’n mens vriende. Wat ek soek in ’n persoon, is dinge wat ooreenstem. Dieselfde belangstellings. Wat vir my belangrik is, is langtermyndoelwitte en dat ons waardes ooreen moet stem. Voorkoms is beslis belangrik – eerste indrukke – maar dan begin dit gaan oor die detail. En of jy met mekaar kan kommunikeer. Ek is nogal avontuurlustig, so dit moet iemand wees met wie ek daardie aspek kan deel.
B: Dit is beslis goed om gemeenskaplike belangstellings en doelwitte te hê. Maar dit is nie noodsaaklik nie. En as daar goed is waar ’n mens verskillend is, dwing dit jou uit jou gemaksone, en dan word dit ’n geleentheid waar ’n mens groei en leer. Dit kan positief wees, of negatief. Om te verskil, om verskillende kulturele agtergronde te hê, kan sorg vir ’n ryker ervaring. Dit maak dat ’n mens die lewe op ’n ander manier sien.
A: Ek is beslis op soek na ’n lewensmaat, maar dis iets wat… dit sal gebeur soos en wanneer dit kom.
B: Ek is ook oop vir die moontlikheid van ’n langtermynverhouding of lewensmaat, maar ek soek nie noodwendig aktief daarna nie. Die idee van ’n lewensmaat is een van daai goed wat jy vertel word jy moet doen. Jy moet iemand kry, settle, kinders hê… En ek dink eenvoudig nie dit is meer geldig nie. Verhoudings, deesdae, duur vyf jaar, miskien tien jaar. Vir ’n verhouding, ek dink… soek ek iemand wat die lewe verstaan. Iemand by wie ’n mens gemaklik kan wees, en veilig kan wees. Ek weet nie of ek meer voorskriftelik wil wees oor wat ek in iemand soek nie.
B: Ek is gelukkig. Ek voel vergenoegd. Ek is baie gemaklik daarmee om net myself te wees voor A, want ek weet daar is geen veroordeling nie. A se liefde vir my is heeltemal onvoorwaardelik. Ek ervaar soveel vrede en geluk daarin om in ’n verhouding te wees waar ek weet dat die liefde onvoorwaardelik is. Dit maak nie saak hoe baie ons baklei nie – en soms raak dit nogal luidrugtig – ek het nog nooit getwyfel dat hierdie verhouding dié een is nie. Dit maak nie saak wat gebeur nie – daar was nog nooit ’n punt waar ek ons verhouding bevraagteken het, of gevoel het dat ek uit hierdie verhouding moet kom nie. Van die begin af het ek net hierdie sterk begeerte gehad om A beter en beter te leer ken.
A: Ek het weer vanuit die staanspoor gevoel dat B ’n deel van my is, en dat ek ’n verantwoordelikheid teenoor B het. Nou voel ek eenvoudig so vergenoegd. Ek het altyd gedink liefde gaan oor ’n fisieke aangetrokkenheid. Maar dit is soveel dieper as dit. Dit is eerder ’n dieper begrip. Respek. Dit is die eerste keer dat ek in ’n verhouding is waar ons altwee mekaar so heelhartig respekteer.